Man uit kake van woedende leeu gered - Volksblad
2011-11-01 22:53
UPINGTON. – ’n Veldwagter se lewe is gister op heldhaftige wyse gered toe ’n aggressiewe leeu in die Kgalagadi-oorgrenspark hom agterop die bakkie waarop hy was, aangeval het.
Die bebloede mnr. Albert Bojone is letterlik uit die leeu se kake gered toe mnr. Graeme Ellis, ’n biotegnikus en navorser in die park, uit die bakkie se kajuit gespring en hom in die kajuit ingepluk het.
Bojone se stewel, waaraan die leeu hom gegryp het, het in die leeu se bek agtergebly toe Ellis hom losgeruk het. Die leeu is met die stewel nog in sy bek doodgeskiet.
Die leeu het hom eers aan die arm beetgekry. Toe die leeu los, het Bojone op die kajuit se dak gespring met die leeu agterna.
Dit was moontlik ’n wraakaanval nadat een van die vier leeus in dié troppie die naweek doodgeskiet is nadat hy ’n bees aangeval het.
Mev. Henriëtte Engelbrecht, bemarkings-en-kommunikasiebestuurder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) se ariede parke in die Noord-Kaap, sê Bojone, Ellis en mnr. Mico Ferreira, senior veldwagter, het aan die Botswana-kant van die park digby die grens tussen Suid-Afrika en Botswana na die drie oorblywende leeus in die troppie gesoek.
Bojone het agterop die bakkie gesit en die ander twee in die kajuit. Hulle het twee leeus agtervolg en toe agter die regterkantste een aangery.
Die volgende oomblik het die ander leeu op die bakkie afgestorm en agterop gespring.
“Die bakkie het gelukkig relings, wat die leeu gestuit het. Hy het Bojone aan sy arm beetgekry. Toe hy vir ’n oomblik los, het Bojone op die kajuitdak gespring.”
Die verwoede leeu het tot op die bak gespring en Bojone aan die voet beetgekry. Ellis het uit die kajuit gespring en Bojone ingepluk.
Albei sy stewels het agtergebly, een daarvan in die leeu se bek. Dié stewel het vier gate waar die leeu sy tande vasgeslaan het.
Bojone is na die Mediclinic Upington gebring waar hy gister laat nog in die waakeenheid was.
Engelbrecht sê dié leeus, by die veldwagters bekend as “bosleeus”, loop gewoonlik in gebiede waar hulle geen mense sien nie.
Hulle is daarom nie aan mense gewoond nie, of is om een of ander rede kwaad vir mense.
Die leeu wat Bojone aangeval het, was moontlik woedend oor sy makker wat doodgeskiet is.
Wanneer die leeus uit hul gebied beweeg, word veldwagters gestuur om hulle te vang. Hulle word dan na Kgalagadi teruggebring waar hulle vir 14 dae in ’n boma gehou word. Hulle word daarna vrygelaat sowat 200km van waar hulle gekry is.
Sy sê mnr. Nardus du Plessis, die park se vorige senior veldwagter, het gister aan haar bevestig dat geen leeu in die 15 jaar wat hy in die park was, ’n mens aangeval het nie.
Bojone, wat al 22 jaar in die park werk, het ook gesê dit het in sy tyd hier ook nog nooit gebeur nie.
Engelbrecht sê dit het wel al gebeur dat leeus van die veldvoertuie bestorm het. ’n Kombers word oor hulle gegooi as hulle naby die voertuig kom. Hulle spook dan met die kombers, en blaas dan die aftog.
Gister het die leeu egter eenvoudig deur die kombers gebars om by Bojone uit te kom.
“Hy moes woedend gewees het.”
http://www.volksblad.com/NoordKaap/Nuus/Man-uit-kake-van-woedende-leeu-gered-20111101